|
Page 1 of 7 Hierdie nuus word deur "Uitsaaines" opgestel en beskikbaar gestel aan "Wild Horse Entertainment" vir ons perde reg oor die wereld in Afrikaans.
Nuus vir Oktober 2008 Verskaf Deur www.Uitsaaines.co.za
Thursday, October 23 2008 @ 10:39 AM CDT Geskryf deur: Kraai
Die lyk van 'n 30-jarige man is Donderdag in Durban se Bay of Plenty gekry. Volgens 'n polisiewoordvoerder is die man se lyk omstreeks 05:00 uit die water gehaal. "Daar was geen sigbare beserings nie en 'n nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van sy dood vas te stel. Hy het moontlik verdrink," het die woordvoerder aan Sapa gesê.
Die Noord-Kaapse departement van onderwys is glo in ’n groot geldelike gemors wat beteken dit dompel skole, onderwysers en leerlinge in dié provinsie ook in ’n gemors. In die bestaande boekjaar is glo reeds miljoene rande oorbestee en die departement kan glo nie sy verpligtinge nakom nie. In onderwyskringe bestaan ’n groot vrees vir ’n ernstige personeelvermindering omdat die departement glo nie geld het nie. Van die tydelike onderwysers in die provinsie is ook in ’n geldelike verknorsing gedompel omdat hulle nie hul maadelikse toelaes vir byvoordele, soos per kollektiewe ooreenkoms bepaal, ontvang nie.
Die departement van gesondheid in Limpopo ondersoek bewerings dat ambulanse as taxi's gebruik word. Die departement sê gemeenskapslede het hulle ingelig dat ambulanse gebruik word om pendelaars aan te ry. Dié beweerde misbruik kom veral in die Mopani distrik voor. Die woordvoerder sê ooggetuies het met bewyse vorendag gekom en tugstappe sal volg sodra die ondersoek afgehandel is.
'n Internasionale agentskap wat die bedrywe van seerowers monitor, sê die Somaliese kus is die gevaarlikste vir skepe. Meer as 'n derde van alle see-aanvalle het in Somaliese water plaasgevind. Dit is dubbel die getal voorvalle verlede jaar. Die Internasionale Marine Buro sê selfs 'n baie groot vlootteenwoordigheid kon nie die aanvalle stop nie en die aanvalle dreig om die handelsroete tussen Asië en Europa te ontwrig. Hulle waarsku dat daar strenger teen seerowers opgetree moet word, selfs nog voor hulle toeslaan.
Brandweermanne in die Zimbabwiese hoofstad Harare, is so honger dat hulle nou begin staak het. Die staatsbeheerde Herald berig dat die brandweermanne begin staak het nadat die munisipaliteit van Harare, opgehou het om kos tydens werkstyd aan hulle te verskaf. Zimbabwe ondervind op die oomblik reuse voedseltekorte. Die VN sê teen Januarie aanstaande jaar sal sowat vyf-komma-vyf miljoen van die land se inwoners afhanklik wees van voedselhulp, ná 'n reeks misoeste in die land. Die Minister van Finansies, Trevor Manuel, het vroeër die week in sy mediumtermynbegroting gesê dat Zimbabwe 300 miljoen rand sal ontvang om in die land se voedseltekorte te help.
Die eienaar van die wêreldbekende afdelingswinkel, Harrods, in Londen, Mohamed al-Fayed, is deur die polisie ondervra oor bewerings dat hy 'n meisie jonger as 16 jaar seksueel aangerand het. Die polisie ondersoek berigte dat die meisie, wat na bewering 15 jaar oud is, by 'n sakeperseel in die middestad van Londen aangerand is.
Wednesday, October 22 2008 @ 10:31 AM CDT Geskryf deur: Kraai
Regter Chris Nicholson het die Nasionale Vervolgingsgesag toestemming gegee om te appelleer in die uitspraak van die Jacob Zuma saak. Die regter sê hy staan verlof tot appèl toe op 16 punte wat in die NVG se aansoek vervat is. Dit sluit in 'n verklaring dat daar politieke inmenging was in die besluit om Zuma te vervolg.
Die polisie in Gauteng soek na drie mans wat 'n polisiebeampte Woensdag in Jeppe doodgeskiet en 'n verdagte uit 'n vangwa help ontsnap het. 'n Polisiewoordvoerder het aan Sapa gesê twee beamptes was omstreeks 09:00 besig om 'n verdagte wat vroeër in besit van 'n AK47 betrap is, te vervoer. "Die aanvallers, in 'n Audi, het van agter op die polisievoertuig losgebrand. Toe die voertuig tot stilstand kom, het die aanvallers die polisiebeamptes, van wie een op die toneel dood is, ontwapen en met die gevangene ontsnap.
Die rand het vandag vir die eerste keer in meer as ses en ’n half jaar swakker as R11 teenoor die dollar verhandel. Veral ontluikende markte – waaronder Suid-Afrika – kry swaar namate beleggers geld uit dié markte onttrek. Die dollar vaar goed teen die meeste geldeenhede in dié onstuimige tye en het verstewig tot $1,29 teenoor die euro. Die rand het in oggendverhandelinge op R11,07 teenoor die dollar verhandel.
Die verpleegster wat in die Morningside medi-kliniek vir die arena virus behandel word is nog in 'n ernstige, maar stabiele toestand in die hospitaal. Die hospitaal woordvoerder sê die pasiënt is steeds op anti-virale behandeling. Die verpleegster is meer as 'n week gelede in die kliniek opgeneem nadat sy simptome van 'n virale hemoragiese koors begin toon het. Dit het later aan die lig gekom dat sy die arena-virus het. Sy is die vierde persoon wat met dié tipe virus gediagnoseer is. Drie mense is reeds oorlede. Twee verpleegsters by die Morningside medi-kliniek het die siekte opgedoen toe hulle twee pasiënte versorg het.
Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika, of ACSA, het 'n vyfde veiligheidskontrolepunt by die eindpunte vir binnelandse vlugte op die Kaapstadse Internasionale Lughawe bekendgestel om die toeloop in passasiers te hanteer. ACSA sê dit sal die lughawe se vermoë vergroot om passasiers te hanteer. Daar word verwag dat die nuwe beheerpunt na verwagting die passasierstoue in die besige seisoene sal laat krimp.
Tuesday, October 21 2008 @ 10:27 AM CDT Geskryf deur: Kraai
Senior lede van die Springbokspan oorweeg dit wel om die toer na Brittanje te boikot, ondanks wat SA Rugby deur hul waarnemende besturende direkteur, mnr. Andy Marinos, gister in ’n verklaring kwytgeraak het. Verskeie Springbokke het laat blyk dat hulle hul deelname aan die toer sal heroorweeg as die flank Luke Watson vir die toer gekies word. Die spelers is ontevrede oor die uitlatings van Watson toe hy sou gesê het hy moes homself keer om nie op die Springboktrui te braak nie.
’n Seun van die Helpmekaar Kollege in Johannesburg is in ’n ernstige toestand in ’n hospitaal nadat matriekleerlinge van dié skool hom na bewering in ’n asblik gedwing en met die deksel aangerand het. Die 15-jarige, ’n gr. 9-leerling van dié private skool in Braamfontein, is verlede Dinsdag so erg beseer dat hy in die hoë?sorgeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal opgeneem moes word.
Twee hoërskoolleerlinge op George in die Suid-Kaap is vir ondervraging ingeneem, nadat die polisie klopjagte op verskeie skole in die gebied uitgevoer het. Die polisie het beslaggelê op ammunisie, messe en dagga. 'n Polisiewoordvoerder, Malcolm Pojie sê hulle sal vir die volgende paar weke met die klopjagte voortgaan.
Ses mense is dood in Germiston aan die Oos-rand, toe 'n vliegtuig naby die N-3 neergestort het. Die vliegtuig het kort ná opstyging van die Randse lughawe 'n noodsein uitgestuur, maar kort daarna naby die Wesbank-renbaan neergestort en aan die brand geslaan. Die vliegtuig was na Ficksburg in die Oos-Vrystaat onderweg. Die identiteit van die insittendes is steeds onbekend.
Die Afghaanse hoofstad, Kaboel, wemel van polisieversperrings ná gister se moord op Gayle Williams, 'n welsynswerker met Suid-Afrikaanse en Britse burgerskap. Sy is volgens berigte vermoor omdat sy 'n Christen was. Die Taliban het aanspreeklikheid aanvaar, en sê sy is geteiken, omdat sy haar geloof versprei het.
Monday, October 20 2008 @ 10:41 AM CDT Geskryf deur: Kraai
Mev. Najwa Petersen het 'n motief gehad om haar man, die musieklegende Taliep Pietersen, te laat vermoor, het die staat Maandag in sy slotbetoog aangevoer. Die staat het Maandag in die Kaapse Hooggeregshof met sy slotargument in die Petersen-verhoor begin. Adv. Shareen Riley, vir die staat, het in 'n laaste pleidooi vir regter Siraj Desai gevra om mev. Najwa Petersen en haar drie mede-beskuldigdes skuldig te bevind op alle aanklagte wat verband hou met Petersen se moord op 16 Desember 2006.
’n Agtienjarige matriekmeisie van die Oos-Rand is binne net vyf dae aan ’n ernstige infeksie dood wat glo van rotte afkomstig is. ’n Onderwyser by haar skool is tans in die hospitaal met ’n soortgelyke siekte. Dié nuus kom te midde van die ontsteltenis oor die aansteeklike arena-virus wat al die lewens van drie mense geëis het. Dié virus word ook deur knaagdiere versprei.
n Vrou is in 'n hospitaal in Port Elizabeth opgeneem nadat 'n buffel haar by die Bergkwagga Nasionale Park in Cradock aangeval het. Marna Els van Graaff Reinet en haar man het die Idwala wandelpad gestap toe 'n buffel-bul op hulle afgestorm het. Die buffel het Els gestormloop voordat hy in die bosse verdwyn het. Els het vyf ribbes en haar sleutelbeen gebreek. Sover bekend is dit die eerste keer dat 'n dier 'n persoon in die park beseer.
Die verhoor van die berugte misdadiger - Annanias Mathe - is vir die derde keer in die Hooggeregshof in Johannesburg uitgestel. Mathe het vanoggend vlugtig in die hof verskyn. Die saak wat twee weke gelede sou begin het, is weer uitgestel omdat Mathe nog nie regshulp het nie. Hy het in November 2006 uit die Pretoriase C-Max-gevangenis ontsnap en staan tereg op 77 aanklagte. Mathe moet weer op 4 November in die hof verskyn.
'n Polisieman is op Umlazi naby Durban in KwaZulu-Natal doodgeskiet. Die voorval het gebeur toe die polisiebeampte 'n klagte gaan ondersoek het waar een man 'n wapen op ander man gerig het. 'n Onbekende man het die polisiebeampte op die toneel doodgeskiet.
Polisieduikers het die liggaam van 'n 32-jarige man van Kaapstad in die hawe van Port Elizabeth gevind. Die man het vermoedelik verdrink toe hy van 'n vissersboot afgeval het waaraan hy gewerk het. Sy naam is nie bekendgemaak nie.
Friday, October 17 2008 @ 11:18 AM CDT Geskryf deur: Kraai
’n Matriekleerling is na bewering met ’n naaldwerkskêr in die onderlip gesteek toe hy glo twee bakleiende medeleerlinge uitmekaar wou haal. n Leerling (18) van die skool is in hegtenis geneem en op waarskuwing onder die sorg van sy ouers vrygelaat. Die 18-jarige slagoffer en ’n maat het glo na die badkamer gegaan waar die maat in ’n woordewisseling met die verdagte betrokke geraak het. Toe die slagoffer die bakleiery probeer beëindig, is hy na bewering met die skêr in die lip gesteek.
Die VSA sal nuwe sanksies teen Zimbabwe se President Robert Mugabe en sy regering oorweeg, indien ’n magsdeling-ooreenkoms plat val, sê die Amerikaanse adjunkminister van buitelandse sake vir Afrika, Jendayi Frazer. Frazer sê sy is nie baie optimisties oor die doodloopstraat waarin onderhandelinge tussen Mugabe en opposisieleier Morgan Tsvangirai tans is nie. “As daar niks gebeur nie sal ons voortgaan om druk op die regering te plaas. Ons sal kyk na nuwe sanksies teen President Mugabe en sy regering,” het Frazer aan verslaggewers in Tokyo gesê.
Die ondersoek na die ineenstorting van die kantoorblok in Roodepoort aan die Gautengse Wesrand is vanoggend gestaak nadat die gebou verder begin intuimel het. Die departement van Arbeid sê alle opruimingswerk is gestaak totdat die liggaam van 'n werker, wat vermoedelik onder die puin is, opgespoor is. Snuffelhonde en reddingswerkers moes vanoggend uit die gebou padgee toe dit rondom 10-uur verder begin inval het.
Mbhazima Shilowa gaan vandag begin met sy veldtog vir aanstaande maand se nasionale konvensie wat onder leiding van die voormalige ANC voorsitter, Mosioua Lekota gehou gaan word. Shilowa sal op sy tuisdorp op Olifantshoek in Limpopo steun vir die konvensie op 2 November begin werf. Shilowa het vroeër gesê dat hy deur die hele land sal reis om tussentydse strukture in die verskillende provinsies op die been te bring.
Wednesday, October 15 2008 @ 11:06 AM CDT Geskryf deur: Kraai
In tipiese Bonnie-en-Clyde-styl het twee rowers eergister byna R1 miljoen by Eerste Nasionale Bank in Waterval-Boven, Mpumalanga, gesteel. ’n Man en ’n vrou het kort voor 16:00 by die bank ingestap onder die voorwendsel dat hulle geld wou trek. Die twee het glo in die banksaal aan die baklei geraak. Toe personeellede wou help, het die twee handwapens uitgepluk en hulle aangehou. Hulle het al die kontant in die bank gebuit voordat hulle die personeel in die kluis toegesluit het.
'n Nasionale konvensie oor die moontlikheid van 'n wegbreek-party uit die ANC, sal op Sondag die 2de November plaasvind. Die voormalige Gautengse premier, Mbhazima Shilowa, het by 'n mediakonferensie in Johannesburg amptelik sy steun toegesê aan 'n nasionale konvensie, waar 'n moontlike wegbreek-party, onder leiding van oud-minister Mosiuoa Lekota, bespreek sal word. Shilowa het gisteraand uit die ANC bedank.
n Radiografis is in afsondering in die St Augustines Hospitaal in Durban met simptome soortgelyk aan dié van die Arena-virus. Volgens berigte was die vrou in kontak met die drie draers van die virus wat in die Morningside Kliniek in Johannesburg aan die siekte dood is. 'n Woordvoerder vir St Augustines, Augusta Dorning, sê vroeë aanduidings is dat die vrou nie die virus het nie, maar dat voorsorgmaatreëls eerder geneem word.
Navorsers sê die negeduisend-jaar-oue oorskot van 'n ma en haar baba wat naby Israel ontdek is, is die vroegste bewys van tuberkulose. Die grootte van die baba se bene en die gevorderdheid van die TB-skade, dui daarop dat die baba die virus kort na geboorte by die ma opgedoen het. DNS toetse het die teenwoordigheid van die bakterie bevestig. Die beendere is opgegrawe by Alit-Yam naby Haifa. Dit was vir duisende jare onder water. Die ontdekking bewys dat die siekte minstens drieduisend jaar ouer is as wat aanvanklik geglo is.
Die Springbok-losvoorspeler Luke Watson kan vir 'n lang tyd geskors of 'n stewige boete opgelê word indien hy daaraan skuldig bevind word dat hy SA Rugby se Gedragskode oortree het. Watson het na bewering gesê SA Rugby is verrot tot op die been omdat dit deur sogenaamde "Dutchmen" beheer word, en hy moes homself keer om nie op sy Springboktrui te braak nie. 'n Durbanse prokureur, Dekker Govender, het opdrag om die bewerings te ondersoek en vas te stel of dit 'n dissiplinêre verhoor regverdig.
Tuesday, October 14 2008 @ 10:51 AM CDT Geskryf deur: Kraai
'n Man is in hegtenis geneem ná die 5 uur lange "brutale, sadistiese" marteling van 'n 21-jarige vrou in 'n woonplek naby Durban. 'n Polisiewoordvoerder het aan Sapa gesê die verdagte se gedrag word gewoonlik geassosieer met dié van reeksmoordenaars. Die vrou is in die naweek in KwaDabeka deur die man ontvoer wat haar na 'n woonplek in die omgewing van Umhlabunzima geneem het. "Hy het haar in 'n kamer toegesluit, kaal uitgetrek en begin martel," het die woordvoerder gesê. Sy het daarin geslaag om te ontsnap nadat sy haar aanvaller gesmeek het om die toilet te gebruik. Die man is in hegtenis geneem. Die polisie ondersoek klagte van ontvoering, onsedelike aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Enkele ure nadat hy gisteraand uit die ANC geskors is, het ’n uitdagende mnr. Mosiuoa Lekota ’n “opmars” na ’n nuwe struktuur bepleit. Lekota het ’n beroep op die skare gedoen om na hul gemeenskappe terug te gaan en mandate vir ’n beoogde nasionale stigtingskonvensie te kry. Hy het gesê die tyd en plek waar so ’n nasionale konvensie gehou sal word, kan binne die volgende vier weke aangekondig word aangesien ’n komitee reeds daaraan werk: “ ’n Naam, embleem en kleure vir ’n nuwe party word bespreek.
Die polisie het bevestig dat 'n 18-jarige Suid-Afrikaner in hegtenis geneem is in verband met die moord op 'n drie-jarige meisie by Masiphumelele naby Vishoek in die Kaapse Skiereiland. Die polisie sê hy word nie van die moord aangekla nie, maar hy word ondervra. Vroeër het die polisie 'n Mosambiekse burger ondervra, maar hy is intussen vrygelaat. Die liggaam van Ayola Adonis is in bosse gekry, ure nadat sy vermis geraak het. Sy het Sondagmiddag verdwyn toe sy buite haar ouma se huis gespeel het. Die polisie vermoed sy is seksueel aangerand. 'n Vergadering word vir vanaand beplan om die gemeenskap gerus te stel, nadat die Mosambieker se vriendin deur gemeenskapslede aangeval is.
Die Morningside kliniek het bevestig dat die verpleegsuster wat die naweek saam met 'n paramedikus in die hospitaal opgeneem is, vir die arena-virus behandel word. Volgens die kliniek het toetse bevestig dat sy die dodelike virus het. Haar toestand word as stabiel beskryf. Altesaam 157 mense word gemonitor nadat hulle in kontak was met 'n slagoffer van die virus.
Die groot uittog van boere uit die suiwelbedryf neem ontstellende afmetings aan. Syfers wat deur die Melkprodusente-organisasie uitgereik is, toon dat nóg 130 boere die bedryf die afgelope vyf maande verlaat het. Dit is veroorsaak deur 'n skerp styging in insetkoste en 'n daling in produsente se pryse. Kleiner en ontluikende boere word die swaarste hierdeur getref.
Monday, October 13 2008 @ 10:37 AM CDT Geskryf deur: Kraai
Die Afrikaanse sportkommentator Chris Möller (48) is gisteroggend op slag dood in ’n motorbotsing agter Durban se Absa-stadion. Hy het eergistermiddag nog kommentaar oor SuperSport gelewer oor die Curriebeker-halfeindstryd tussen die Sharks en Leeus in Durban. Hy was gister omstreeks 07:30 in ’n botsing reg van voor betrokke terwyl hy na die lughawe onderweg was. Mnr. Chris Botha, ’n woordvoerder van Netcare 911, het gesê Möller het erge kop- en borsbeserings opgedoen. Die motor waarin Möller gery het, het omgeslaan en ’n hele ent gerol nadat dit teen ’n Toyota RAV4 gebots het.
Gewapende aanvallers het ’n vrou van ’n plaas by Bronkhorstspruit, oos van Pretoria, tydens ’n rooftog in haar bed geskiet en gewond. Me. Alida Pienaar (39) is Vrydag om 02:10 in die linkersy geskiet toe sy wakker geword het van ’n geluid en beweging wat sy by sy en haar man, Koos (40), se slaapkamervenster gesien het. ’n Tweede skoot het die bed se matras getref. Kapt. Simon Petrus Mashiloane, polisiewoordvoerder, het gesê kort ná die voorval is ’n plaaswerker wat op pad huis toe was nadat hy op ’n nabygeleë kleinhoewe gekuier het, deur vier rowers oorval, aangerand en van ’n selfoon en beursie beroof.
Die ANC het onderneem om binnekort 'n geskrewe antwoord aan die voormalige voorsitter van die party, Mosioua Lekota te gee. Lekota het by Luthuli-huis met die Tesourier-generaal van die ANC, Mathews Phosa, vergader. Dit volg nadat Lekota die party in die media gekritiseer en gesê het dat die ANC van sy kernwaardes wegbreek. Lekota werf landwyd steun vir 'n Nasionale Konvensie wat daarop gemik is om 'n splinterparty te vorm.
Die verhoor van een van die land se berugste misdadigers - Annanias Mathe - het vandag in die Johannesburgse Hooggeregshof hervat. Mathe se verhoor sou 'n week gelede hervat het, maar geen regters was beskikbaar om die saak te verhoor nie. Mathe staan tereg op 77 aanklagte insluitende verkragting, poging tot moord, dieremishandeling en huisbraak. Die 31-jarige Mathe het in November 2006 uit die Pretoriase C-Max-gevangenis ontsnap. Die verhoor sal na verwagting sowat vyf maande duur.
Die virale hemorragiese koors, wat drie mense se dood in Suid-Afrika veroorsaak het, is voorlopig geïdentifiseer as 'n Arena Virus. Die virus hou verband met die oordraagbare siektes van knaagdiere na mense. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes en die Departement van Gesondheid sê die virus is verwant aan die Lassa koorsvirus wat in Wes-Afrika voorkom.
Friday, October 10 2008 @ 11:23 AM CDT Geskryf deur: Kraai
Die enigste rede waaraan hulle kan dink vir die wrede aanval waarin hul pa verskeie kere met 'n AK47-aanvalsgeweer geskiet is, is 'n grondeis wat hulle teenstaan. Só het mnre. George en Christo Spies gesê nadat hul pa, Hansie (75), gister hier op die familieplaas Gravelotte 'n koeëldood gesterf het. 'n Polisiehelikopter, twee private helikopters, 'n groot groep boere, polisiemanne met honde en op perde en speurders het 'n grootskeepse soektog na die verdagtes begin. Gistermiddag het die polisie 'n motor wat vermoedelik in die aanval gebruik is, verlate by Bergville gekry. Die soektog na die verdagtes het gisteraand voortgeduur. Altesaam vyf aanvallers kon betrokke gewees het.
'n Bekende Bloemfonteinse sakeman, mnr. Yianni Tyropolis (62), wat eergisteraand vermoor is, is met soveel geweld in sy huis aangeval dat die bloed hoog teen die mure gespat het. Tyropolis is eergisteraand glo oorval, aangerand en herhaaldelik met 'n skerp voorwerp of voorwerpe in die kop en nek gesteek. Hy is met sy tuiskoms aangeval. Die aanvallers het hom glo by die huis ingedwing. Twee huishulpe is glo ook oorval, vasgebind en in verskillende badkamers toegesluit.
Witbank. ’n Baba se kop is eers vergruis, waarna die lyk middeldeur gesny en op ’n houtaltaar naby ’n skoolkoshuis aan die brand gesteek is. Volgens die Polisie is die baba se bene ook afgesny voordat die liggaamsdele op ’n stapel hout gesit is. Daarna is dit met nog hout toegepak voordat dit aan die brand gesteek is.
Die twee polisiebeamptes wat in hegtenis geneem is vir kitsbankontploffings in die Evander-omgewing in Mpumalanga bly in polisie-aanhouding. Die beamptes en ses plaaslike sakelui het in die landdroshof op die dorp verskyn. Die verdagtes word positief verbind met 'n kitsbank wat by 'n vulstasie in Leslie opgeblaas is. Een van die polisiebeamptes is aangekeer toe hy probeer het om 'n ander polisieman vir ammunisie om te koop. Die verdagtes is intussen uit die SAPD geskors. Die polisie het beslag gelê op vuurwapens en 'n groot bedrag geld wat vermoedelik van die kitsbank afkomstig is.
Thursday, October 09 2008 @ 11:16 AM CDT Geskryf deur: Kraai
Voormalige minister van verdediging, mnr. Mosiuoa Lekota, het nie by die vergadering opgedaag wat deur die ANC gereël is om sy griewe te bespreek nie. "Die ANC-afvaardiging, onder leiding van mnr. Mathews Phosa, het sedert 10:00 gewag vir kameraad Terror Lekota," het woordvoerder me. Jessie Duarte Donderdagoggend gesê. "Die vergadering is telefonies bevestig en Lekota het onderneem om dit by te woon. "Die ANC wil op rekord plaas dat mnr. Lekota nie opgedaag het vir die vergadering nie en die ANC nie in kennis gestel het dat hy nie beskikbaar is nie." Die ANC het gister gesê die vergadering word gehou nadat Lekota kwaai onder die huidige leierskap ingeklim het en alle aanduidings gegee het dat 'n skeuring in die party ophande is. - Sapa
Lekota is glo baie ernstig oor die stigting van ’n nuwe party, maar kan die tydelike weerligafleier eerder as die uiteindelike leier wees. Lekota het gisteroggend die land geskud deur op ’n nuuskonferensie sterk verwysings na ’n nuwe party te maak, maar nie sover te gaan as om dit aan te kondig nie. Hoewel die ANC gister by monde van dr. Mathews Phosa versoenend was, het Lekota se stellings dat hy “egskeidingsdokumente beteken het” en “dit dalk die skeiding van weë is” op ’n komende skeuring gedui. Die potensiële wegbrekers meen hul sterkste steun kan uit die Oos- en Noord-Kaap, en uit Gauteng kom.
Die Zambiese me. Cecilia van Deventer wat verlede maand aan ’n onbekende soort hemoragiese koors in Suid-Afrika dood is, is glo gereeld deur bosluise gebyt omdat sy so lief vir die buitelewe en haar perde was. Dr. Craig Oranmore-Brown, die Zambiese dokter wat haar daar behandel het, het vandeesweek in ’n brief aan The Times gesê sy was boonop kort voor haar siekte by ’n polotoernooi waar perde van die Demokratiese Republiek van die Kongo aangebring is. Dit is dus moontlik dat ’n soort Kongokoors, wat deur bosluisbyte oorgedra word, tot haar dood op 14 September in die Morningside Medi-Clinic gelei het.
n Tweede verdagte is in die Oos-Vrystaat in hegtenis geneem, in verband met 'n plaasmoord in die Harrismith-omgewing vroeër vandag. Die 75-jarige Hansie Spies is buite sy huis aangeval en noodlottig gewond. Hy is op die toneel dood. Sy vrou het hulp met 'n tweerigtingradio ontbied, maar die vier verdagtes het reeds op die vlug geslaan. Een van die verdagtes is aangekeer nadat hy die voertuig waarin hy gevlug het, omgegooi het. Die polisie soek steeds na twee ander verdagtes, wat vermoedelik in die Bergville-omgewing van KwaZulu-Natal skuil.
Vier Internet kafee-eienaars van Hillbrow, Johannesburg, sal vandag in die landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog. Die hoof-superintendent van die Johannesburg Metropolisie, Wayne Minnaar, sê die verdagtes is gister in hegtenis geneem nadat kompakskywe by hulle gevind is om identiteitsdokumente mee te vervals. Twintig vervalste visums is ook in hul besit gekry.
Wednesday, October 08 2008 @ 10:58 AM CDT Geskryf deur: Kraai
’n 14-jarige leerling van die Goedehoop Laerskool in Secunda eis meer as R500 000 van sy skool en die LUR vir onderwys in Mpumalanga nadat hy onder ’n bewegende paviljoen beland het. Die LUR het eergister in die Pretoriase hooggeregshof beswaar aangeteken dat hy as party tot dié aansoek gevoeg is. Volgens die LUR is die seun nie tydens ’n skoolaktiwiteit beseer nie. Regter Ferdi Preller het dit van die hand gewys. Opvoedkundige aktiwiteite is meer as net lees en skryf, het hy gesê. Die seun is op 5 November 2004 op die skoolterrein beseer. Sy naam kan nie genoem word nie omdat hy minderjarig is. Sy ouers staan hom in die aansoek by.
’n Babameisie van Rustenburg wat normaalweg “moeilik” is, het net in haar wiegie gelê en glimlag terwyl sowat 45 000 bye by haar kamervenster ingevlieg en in ’n hoek teen die dak begin nesmaak het. Die baba van ’n paar maande oud het daarna byna twee uur lank met groot ogies doodstil gelê terwyl ’n byevanger al die pad van Pretoria na Rustenburg gejaag en die bye binne 45 minute met sy stofsuier opgesuig het. Die baba is nie een keer gesteek nie.
Dertien studente van die Noordwes-Universiteit word ondersoek vir hulle vermeende betrokkenheid by 'n rassistiese groep op die webtuise, Facebook. 'n Woordvoerder vir die Universiteit, Louis Jacobs sê sedert die ondersoek begin het, is 13 studente van die NWU geïdentifiseer. Hy sê verklarings is by sommige van die studente gekry. Jacobs sê volgens van die verklarings was die studente nie daarvan bewus dat hulle name by die groep gevoeg is nie. Dié bewerings word ondersoek. Jacobs sê sedert Maandag het 'n groot aantal van die oorspronklike lede die groep verlaat. Hy sê die ondersoek sal so gou as moontlik afgehandel word en tugstappe sal geneem word.
Sowat tien kilogram se kokaïen, met 'n straatwaarde van bykans ses miljoen rand, is op 'n Russiese vragskip in Kaapstad se hawe gekry. 'n Polisiewoordvoerder, Dennis Adriao sê die skip is vir verstekelinge deurgesoek toe die verdagte pakkie ontdek is. Adriao sê die skip het via Mosambiek en Namibië in Kaapstad aangedoen, en was oppad terug na Rusland met Suid-Afrikaanse uitvoere. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.
Die Rand hou aan om waarde teenoor ander geldeenhede te verloor, hoofsaaklik weens kapitaal uitvloei as gevolg van kontantprobleme in Amerika. Die finasiële sektor in Europa dra ook by tot beleggers se traagheid om geld in ontluikende ekonomië te belê. Die rand het 'n rukkie gelede teen 9-rand-32 teen die dollar verhandel, 16-rand-34 teen die pond en 12-rand-68 teen die Euro.
Tuesday, October 07 2008 @ 10:12 AM CDT Geskryf deur: Kraai
Die vrou wat na bewering ’n dodelike en hoogs aansteeklike siekte uit Zambië die land ingebring het, is me. Cecilia van Deventer (36).Sy is 'n niggie van die voormalige Springbok-rugbykaptein, Corné Krige. Die Morningside Medi-Clinic, die private hospitaal waar sy op 12 September in ’n bedenklike toestand opgeneem is, het nie by haar aankoms geweet sy dra so ’n siekte nie. Hulle het glo verstaan sy het dalk bosluiskoors. Sy is twee dae later dood. Die siekte het al gelei tot die dood van ’n Zambiese paramedikus wat Van Deventer op haar vlug na Suid-Afrika vergesel het en ’n Medi-Clinic-verpleegster (34) wat haar versorg het. Die naarheid, koors en bloeding wat die siekes gehad het, is simptome wat glo soortgelyk is aan hemoragiese koors. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) kon nog nie die oorsprong van die siekte vasstel nie.
Amptenare van Burgerlugvaart het op die toneel van Sondag se vliegongeluk in die berge naby Barberton in Mpumalanga aangekom. Al nege mense aan boord het omgekom toe die vliegtuig in digte mis neergestort het. Amptenare gaan probeer vasstel of tegniese probleme die oorsaak van die ongeluk was. 'n Verslag oor weerstoestande op die dag van die ongeluk sal ook opgestel word. Die oorledenes was almal van Bloemfontein.
Ongeveer 40 mense is beseer toe 'n Qantas passasiersvliegtuig tussen Singapoer en Perth 'n noodlanding op 'n afgeleë Australiese lughawe moes uitvoer. Die Airbus 320 het 303 passasiers aan boord gehad en moes dringend land toe die vliegtuig na rowwe turbulensie skielik hoogte verloor het. Nooddienswerkers behandel beseerdes op die toneel vir snye en breuke en noodvliegtuie is byderhand om ernstige gevalle na Perth te neem.
Die MDC in Zimbabwe sê die party is spyt dat hy 'n magsdelingsooreenkoms onderteken het sónder dat besonderhede oor die eenheidsregering uitgespel is. Die MDC sê die ooreenkoms is onderteken voordat onderhandelings behoorlik afgehandel is. Die MDC en ZANU-PF stamp ná drie weke steeds koppe oor hoe die ministersposte tussen die twee partye verdeel moet word. Die MDC sê daar was nie 'n ooreenkoms dat sekere portefeuljes aan sekere partye toegeken sou word nie.
Monday, October 06 2008 @ 11:23 AM CDT Geskryf deur: Kraai
Die wrak van die vliegtuig met nege passasiers aanboord wat Sondag in die Barberton-omgewing vermis geraak het, is gevind. Daar is geen oorlewendes nie. Die name van die oorledenes is nog nie bekend gemaak nie, maar dit was na verneem word twee gesinne van Bloemfontein. 'n Ma, pa en drie seuns van een gesin en ma, pa en twee seuns van die ander gesin het na wat verneem word gesterf.
'n Vierde persoon is gisteraand (Sondagaand) dood, moontlik ook aan 'n hoogs-aansteeklike siekte wat deur 'n siek vrou van Zambië Suid-Afrika binnegekom het. Die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (NIOS) is steeds naarstiglik besig met toetse om die oorsprong vas te stel. Die siekte, wat simptome soortgelyk aan griep het, word nie deur die lug oorgedra nie, maar deur liggaamsvloeistowwe, het 'n streeksbemarkingsbestuurder van die Morningside Medi-Clinic, me. Malinda Pelser, Maandag gesê.
’n Negejarige meisie van Onverwacht buite Cullinan, oos van Pretoria, het gisteroggend vergeefs haar elfjarige suster, wat vermoedelik verkrag en toe doodgewurg is, probeer wakker skud. Jeanine Kayser (11) se klein lykie is onder ’n kombers en duvet op haar bed versteek. Haar sussie, Chantelle, het op haar lyk afgekom toe sy op Jeanine se bed geklim het om iets van ’n kas af te haal.
'n Landwye eendagstaking in die Belgiese hoofstad oor stygende lewenskoste ontwrig openbare vervoer en die internasionale sneltreindiens is gekanselleer. Dié Eurostar sal eers weer van tienuur vanaand af beskikbaar wees. In Brussel word tremdienste erg ontwrig en slegs enkele trems en provinsiale treine is beskikbaar. Op snelweë het motors tot stilstand gekom en verkeer staan oor 'n afstand van sowat 300 kilometer stil, nadat pendelaars besluit het om met motors te ry. Vakbonde sê hulle wil 'n duidelike boodskap aan die regering stuur voor die regering sy begroting op 14 Oktober aan die parlement voorlê.
'n Soektog is aan die gang na oorlewendes nadat 'n kragtige aardbewing die sentraal-Asiese republiek Kirkistan geruk het. Minstens 60 mense is tot dusver dood en meer as 100 is beseer. Die aardbewing, van ses-komma-ses op die Richterskaal, het die dorpie Nura, naby die grens met Sjina, die ergste getref. Reddingspogings word bemoeilik omdat die dorpie baie afgeleë en paaie in 'n swak toestand is.
Friday, October 03 2008 @ 11:38 AM CDT
Geskryf deur: Kraai
Reserwebankbaas mnr. Tito Mboweni gaan na verwagting vandag (Vrydag) reageer op die eis van 'n aandeelhouer dat hy hom 'n verskoning verskuldig is. Mboweni het die eis in 'n brief van mnr. Mario Pretorius verlede maand ontvang nadat Mboweni hom glo daarvan beskuldig het dat die sakeman die Reserwebank-goewerneur op 'n rassistiese manier aangespreek het op 'n aandeelhouersvergadering op 18 September.
Vat jou goed en loop, vóór ons jou skors, het die ANC gister aan mnr. Mosiuoa Lekota, oudminister van verdediging en voormalige ANC-voorsitter, gesê in ’n hoogs ongewone mediageveg. Lekota het gister sy bynaam “Terror” gestand gedoen toe hy in ’n ope brief aan mnr. Gwede Mantashe, ANC-sekretaris-generaal, ’n kwalik-bedekte streep in die sand getrek het. Hy wou eerlike antwoorde hê oor of Mantashe en die ander ANC-leiers doelbewus besig is om die party te ruïneer. Lekota het gesê hy en “baie ander kamerade” vereenselwig hulself deesdae met moeite met die party.
Clive Derby-Lewis, voormalige parlementslid vir die ontbinde Konserwatiewe Party (KP) en veroordeelde moordenaar van mnr. Chris Hani, gaan in alle waarskynlikheid vandeesmaand reeds vrygelaat word. Mnr. Marius Coertze, Derby-Lewis se regsverteenwoordiger, het gister gesê sy kliënt is reeds twee keer vir parool aanbeveel en hy kom boonop vanweë sy gevorderde ouderdom in aanmerking daarvoor.
n Sjinese burger het in Kaapstad se Tafelbaai-hawe verdrink. 'n Woordvoerder vir die polisie, André Traut, sê die 60-jarige matroos was op pad terug na 'n Sjinese boot, toe die loopplank meegegee en hy in die water geval het. Polisieduikers het die liggaam uit die water gehaal. Traut sê die polisie ondersoek die saak hoewel geen gemene spel egter vermoed word nie.
Amptenare in Durban soek beter maniere om jongmense, wat die stad se strande besoedel, te beheer. Strandpartytjies het verlede naweek sommige strande met stukkende bierbottels besaai gelaat, wat dit gevaarlik maak om kaalvoet te loop. Die stadsbestuurder, Michael Sutcliffe, sê hulle oorweeg nuwe munisipale wette waardeur mense wat op straat drink, gemeenskapsdiens doen, eerder as om toegesluit te word. Sutcliffe sê die skuldiges kan dan dadelik begin om die gemors op te ruim.
Ondersoekbeamptes in Amerika het menslike oorskot gevind in die vliegtuigwrak van die avonturier, Steve Fossett. Die 63-jarige miljoenêr het in September verlede jaar vermis geraak nadat hy met 'n ligte vliegtuig van die hotelmagnaat, Barron Hilton, se plaas opgestyg het. Die waarnemende voorsitter van die Nasionale Vervoerveiligheidsraad, Mark Rosenker, sê soekspanne het - wat hy noem - 'n klein hoeveelheid menslike oorskot in die puin gevind. Hy wou geen besonderhede bekendmaak nie en sê die oorskot sal nou ondersoek word. Fosset is reeds vroeër vanjaar dood verklaar.
Thursday, October 02 2008 @ 09:38 AM CDT Geskryf deur: Kraai
’n Suid-Afrikaanse maatskappy stel vandeesweek Afrika se eerste ten volle elektriese motor, die Joule, op die Paryse motorskou bekend. Die Joule word deur Optimal Energy ontwikkel en sal na verwagting teen die einde van 2010 plaaslik en later internasionaal te koop aangebied word. Die motor sal sowat R200 000 kos, maar me. Diana Blake, uitvoerende bestuurder van bemarking by Optimal Energy, sê ’n eienaar sal sowat 90% in brandstofuitgawes en 50% in bedryfskoste bespaar vergeleke met ’n konvensionele voertuig.
Die internasionale polisie-agentskap, Interpol het die familie van die vermiste Suid-Afrikaner in Dubai, Kerry Winter, om toestemming gevra om 'n foto van haar as 'n vermiste persoon te publiseer. Die 35-jarige Winter word reeds meer as vyf weke vermis. Sy is laas lewend gesien toe haar voormalige kêrel haar aangerand en in 'n motor geboender het. Natasha Giles, Winter se niggie, sê die familie het Interpol toestemming gegee om haar as vermis aan te meld. Intussen het Winter se neef, Dave Giles na Dubai teruggekeer om haar broer met die soektog te help. Winter se ander broer gaan ook binnekort weer na Dubai.
Die lyfie van 'n pasgebore baba is nog nie gevind nadat 'n hond met die kop in sy bek rondgeloop het nie. 'n Groep kinders het die hond met die bakakop in sy bek in die Kwa-Dabeka-gebied buite Durban gesien. Die polisie ondersoek die saak.
'n Twee-en-dertigjarige man is op die N1 noord van Johannesburg met sy eie vuurwapen doodgeskiet toe hy stilgehou het nadat hy oor 'n groot klip in die pad gery het. Sy vrou is nie beseer nie. Die voorval het volgens die polisie in die vroeë oggendure tussen die Malibongwe- en William Nicholafritte gebeur. Die man is deur vier aanvallers oorompel wat sy vuurwapen afgeneem en hom op die plek doodgeskiet het. Niemand is in hegtenis geneem nie.
n Stapper in 'n afgeleë gebied in die ooste van die Amerikaanse staat Kalifornië het 'n vlieglisensie en ander items gevind wat moontlik dié van die vermiste avonturier Steve Fossett kan wees. Hy het meer as 'n jaar gelede tydens 'n alleenvlug in 'n gehuurde vliegtuig verdwyn. Die inligting op die lisensie - insluitende Fosett se naam, adres en geboortesertifikaat - is na die Amerikaanse Federale Lugvaart gestuur. Volgens die stapper, Preston Morrow, het hy ook 'n duisend dollar in 'n bos wes van die dorp Mammoth Lakes, gekry. Geen wrakstukke of enige oorskot is gevind nie. 'n Soekgeselskap is op die been gebring om die gebied verder te fynkam.
Wednesday, October 01 2008 @ 11:32 AM CDT Geskryf deur: Kraai
'n Jong man het 'n twee maande oue baba in die kop geskiet voordat hy homself doodgeskiet het. Die 27-jarige man en sy vriend het Sondag 'n hewige argument in Davel in Mpumalanga gehad waarna hy die babameisie by haar ma gegryp en met haar weggejaag het. Die ma het hom in haar motor gevolg en die polisie onderweg oor die situasie ingelig. Die man het in een stadium op die polisie begin skiet en beamptes het teruggeskiet. Die man is in die nek getref en hy het langs die pad gestop. Hy het die veld ingehardloop met die baba in een arm. Dáár het hy die meisie in die kop geskiet voordat hy homself geskiet het.
'n Pretoriase man wat glo 'n bomdreigement op die Port Elizabeth-lughawe gemaak het, is in hegtenis geneem. Die 26-jarige man het Dinsdag glo gesê hy het 'n bom in sy besit voordat hy aanboord die vliegtuig gegaan het. Hy was met sake in Port Elizabeth en onderweg na die OR Tambo-lughawe in Johannesburg. Hy het dreigemente gemaak dat hy 'n bom en twee vuurwapens in sy bagasie het. Die polisie se honde- en bomeenheid is in kennis gestel en daar is vasgestel dat hy gelieg het.
Die brandstofreus - SASOL - is deur die Europese Unie met drie-komma-sewe miljard rand beboet omdat hy deel was van 'n paraffienwas-kartel. Die wêreld se grootste vervaardiger van brandstof uit steenkool, is een van nege ondernemings wat 'n gesamentlike boete van sowat agt-miljard rand opgelê is. Volgens berigte was Sasol die leier van die kartel. Ander produsente sluit ExxonMobil en Total SA in. Sasol sê in 'n verklaring op sy webblad dat hy verbaas is oor die groot boete omdat hy sy volle samewerking aan EU-owerhede gegee het. Hy bestudeer nog die bevindinge. Sasol het drie maande tyd om die boete te betaal.
Die bekroonde Afrikaanse skrywer, Audrey Blignault is in die ouderdom van 92 jaar in 'n Kaapstadse kliniek oorlede. Sy was een van die eerste vrouejoernaliste in die land en was onder meer redakteur van "Die Huisvrou". Blignault het verskeie letterkundige pryse gewen, insluitende die Eugène Marais en W.A. Hofmyerpryse asook die Italiaanse Adelaide Ristori-toekenning vir haar bydrae tot kultuur. RSG sal môreaand om half-nege 'n huldeblyk oor Blignault uitsaai.
Die Amerikaanse kern-aangedrewe vliegdekskip, die U-S-S Theodore Roosevelt is toestemming gegee om Suid-Afrikaanse waters binne te vaar. Die reuse skip word Vrydag in Kaapstad verwag. Die Suid-Afrikaanse Vloot sê die Nasionale Kernreguleerder het dié oorlogskip toestemming gegee om aan die Kaapse Skiereiland anker te gooi.
<< Start < Previous 1 2 3 4 5 6 7 Next > End >> |